Een van die ergste vorms van die Swart Dood in die 14de eeu het sy
slagoffers binne vyf dae uitgewis. Maar dat daar ander, subtiele,
moderne en ewe dodelike vorme bestaan van die Pes wat in die donker
wandel, ontdek die bruin Kaapse meisie Andrea Malgas gedurende die vyf
dae wat sy ná ’n jarelange verblyf in Europa in Provence deurbring.
Sy staan tussen twee mans: Paul, die welvarende, middeljarige blanke
esteet wat haar al die gerief en sekuriteit van ’n lewe in Europa
aanbied; en Mandla, die jong swart aktivis wat haar opnuut blootstel
aan die gevaarlike teenwoordigheid van Afrika, waarvan sy haar so lank
al vry gewaan het. Onder andere moet sy besluit of “vryheid” ook
mag beteken dat jy kan klaarkom sonder die land, die samelewing, die
mense wat jou gevorm het. Op soek na lokaliteite vir Paul se film oor
die Swart Dood kom Andrea en Mandla uit by die oorblyfsels van ’n
Muur van die Pes wat eeue gelede gebou is om die plaag te probeer
keer. Vir haar is dit die kulminasie van al die baie mure waardeur sy
in haar lewe voorgekeer is en wat mense apart van mekaar probeer hou:
mure tussen ras en ras, tussen generasie en generasie, tussen man en
vrou, tussen hede en herinnering, tussen werklikheid en droom,
uiteindelik tussen lewe en dood. Wat sy egter ontdek in die skokkende
ontknoping van ’n lewe, herleef in vyf dae, is nie iets negatiefs
nie, maar die ontroerende besef dat mure ook afgebreek kan word. In
die laaste instansie is dit die skrywer Paul wat in een van die
oorspronklikste verteltegnieke wat nog in ’n roman gebruik is,
antwoorde moet gee op die baie vrae wat die verhaal se opset bepaal.
Wat daardie antwoorde is, en of hy daarby uitkom, kan die lesers eers
aflei wanneer hy die hele sirkel van die roman voltooi het. Die muur
van die pes, wat in baie opsigte ’n bedoelde tweeluik met Kennis van
die aand vorm, is ’n ryker en ryper werk as enigiets want André P.
Brink nog geskryf het.
Les mer
Produktdetaljer
ISBN
9780798173124
Publisert
2016
Utgave
2. utgave
Utgiver
Vendor
Human & Rousseau
Språk
Product language
Afrikaans
Format
Product format
Digital bok
Forfatter