Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk,
beeldskoon, Amerikaans – en beangs. Sy word soos ʼn dier gejag
deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se keel afgesny het.
Om 05:43 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy
moet kom, ʼn jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse
kerk bo in Langstraat. Die vorige aand nog het hy gedink dit gaan vir
hom ʼn spesiale dag wees: Die begin van ʼn nuwe era in sy loopbaan, as
mentor van ʼn groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag nuus
oor sy bevordering. ‘Kaptein Bennie Griessel’. Dit klink vir hom
reg. Behoort ʼn redelik normale dag te wees. Tot sy jong span
polisiemense begin stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met
die middeljarige, alkoholis-vrou wat haar man, ʼn groot gees in die
Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy eie pistool deur die hart
geboor het. Met die soektog na die Amerikaanse toeris. Terwyl die
diplomatieke telefoonlyne vuurwarm gebel word en selfs die Minister
begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding soos mis voor die son
verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te probeer red. Om
nie eens te praat van sy persoonlike probleme nie. Sy bankrekening lyk
sleg, hy stoei nog met die dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit
die bloute en sê vanaand is die aand dat hulle oor die toekoms moet
gesels. Weet sy van die 26-jarige rekenaartegnikus met die aansienlike
borste wat hy gisteraand, in ʼn oomblik van swakheid, op sy
sitkamerbank beetgekry het? Boonop kondig sy vriend en kollega Mat
Joubert aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met
die nuus dat hy klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in ʼn
rock-groep met die naam van ‘Wet & Orde’. En dan, net wanneer hy
op die punt staan om die Amerikaanse meisie te red, skiet hulle vir
Bennie Griessel. Reg in die hart. Redelik normale dag, jou tipiese
dertien uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.
Les mer
Produktdetaljer
ISBN
9780798157452
Publisert
2015
Utgave
1. utgave
Utgiver
Vendor
Human & Rousseau
Språk
Product language
Afrikaans
Format
Product format
Digital bok
Forfatter